147:1 Loof die HERE, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; 'n loflied is gepas!
147:2 Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is.
147:3 Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.
147:4 Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.
147:5 Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.
147:6 Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe.
147:7 Sing 'n danklied tot eer van die HERE, psalmsing tot eer van onse God met die siter;
147:8 wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit,
147:9 wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep.
147:10 Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.
147:11 Die HERE het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.
147:12 o Jerusalem, prys die HERE! o Sion, loof jou God!
147:13 Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën.
147:14 Hy wat aan jou grondgebied vrede verskaf, wat jou versadig met die beste van die koring,
147:15 wat sy bevel na die aarde stuur- sy woord loop baie vinnig.
147:16 Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as.
147:17 Hy werp sy ys heen soos stukke- wie kan bestaan voor sy koue?
147:18 Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai- die waters loop.
147:19 Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge.
147:20 So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja!
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase