24:1 'n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;
24:2 want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.
24:3 Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek?
24:4 Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie.
24:5 Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil.
24:6 Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig soek- dit is Jakob. Sela.
24:7 Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!
24:8 Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd.
24:9 Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!
24:10 Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare- Hy is die Erekoning! Sela.
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase