85:1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. 'n Psalm.
85:2 U het, o HERE, 'n welbehae gehad in u land; die lot van Jakob het U verander.
85:3 U het die ongeregtigheid van u volk weggeneem, al hulle sonde bedek. Sela.
85:4 U het al u grimmigheid teruggetrek, U het U van die gloed van u toorn afgewend.
85:5 Herstel ons, o God van ons heil, en maak tot niet u grimmigheid teen ons!
85:6 Sal U vir ewig teen ons toornig wees, u toorn laat duur van geslag tot geslag?
85:7 Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?
85:8 Laat ons u goedertierenheid sien, o HERE, en gee ons u heil!
85:9 Ek wil hoor wat God die HERE spreek. Ja, Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy gunsgenote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie!
85:10 Gewis, sy heil is naby die wat Hom vrees, sodat heerlikheid in ons land kan woon.
85:11 Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.
85:12 Trou spruit uit die aarde en geregtigheid kyk uit die hemel neer.
85:13 Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings.
85:14 Geregtigheid gaan voor Hom uit, en dit let op die weg van sy voetstappe.
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase