91:1 Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.
91:2 Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.
91:3 Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.
91:4 Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.
91:5 Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie,
91:6 vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!
91:7 Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand- na jou sal dit nie aankom nie.
91:8 Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.
91:9 Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.
91:10 Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;
91:11 want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.
91:12 Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.
91:13 Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.
91:14 Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.
91:15 Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.
91:16 Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase