63:1 'n Psalm van Dawid, toe hy in die woestyn van Juda was.
63:2 o God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in 'n dor en uitgedroogde land, sonder water.
63:3 Só het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien.
63:4 Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.
63:5 Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef.
63:6 Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe
63:7 as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins.
63:8 Want U was 'n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel.
63:9 My siel is aan U verkleef; u regterhand ondersteun my.
63:10 Maar húlle wat soek om my lewe te verderwe, hulle sal kom in die onderste plekke van die aarde.
63:11 Hy sal oorgelewer word in die mag van die swaard; die deel van die jakkalse sal hulle word.
63:12 Maar die koning sal bly wees in God; elkeen wat by Hom sweer, sal hom beroem; want die mond van die leuensprekers sal gestop word.
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase