83:1 'n Lied. 'n Psalm van Asaf.
83:2 o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God!
83:3 Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op.
83:4 Teen u volk smee hulle listig 'n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes.
83:5 Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.
83:6 Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle 'n verbond:
83:7 die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners,
83:8 Gebal en Ammon, en Amalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus.
83:9 Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is 'n arm vir die kinders van Lot. Sela.
83:10 Maak met hulle soos met Mídian, soos met Sísera, soos met Jabin by die spruit Kison:
83:11 hulle is verdelg by Endor, hulle het mis geword vir die grond.
83:12 Maak hulle, hul edeles, soos Oreb en Seëb, en al hulle vorste soos Seba en Salmúna,
83:13 wat sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem!
83:14 My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind.
83:15 Soos vuur wat 'n bos verbrand, en soos die vlam wat berge aan die brand steek-
83:16 vervolg hulle só met u storm en verskrik hulle met u stormwind.
83:17 Oordek hulle aangesig met skande, dat hulle u Naam kan soek, o HERE!
83:18 Laat hulle beskaamd staan en verskrik wees vir ewig, en laat hulle rooi van skaamte word en omkom;
83:19 sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam HERE is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase