76:1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. 'n Psalm van Asaf. 'n Lied.
76:2 God is bekend in Juda, sy Naam is groot in Israel.
76:3 Ook het in Salem sy tent verrys en in Sion sy woning.
76:4 Daar het Hy die blitspyle van die boog verbreek, skild en swaard en oorlog. Sela.
76:5 Glansryk is U, heerlik van die roofberge af!
76:6 Geplunder is die sterkes van hart; hulle het hul slaap gesluimer, en geeneen van die dapper manne het hulle hande gevind nie.
76:7 Deur u dreiging, o God van Jakob, het strydwa en perd saam bedwelmd geraak.
76:8 U, vreeslik is U, en wie kan voor u aangesig bestaan as u toorn uitgebreek het?
76:9 Uit die hemel het U 'n oordeel laat hoor; die aarde het gevrees en stil geword,
76:10 toe God opgestaan het vir die gerig, om al die ootmoediges van die land te verlos. Sela.
76:11 Want die grimmigheid van die mens moet U loof; met die oorblyfsel van grimmighede gord U Uself.
76:12 Doen geloftes en betaal dié aan die HERE julle God! Laat almal wat rondom Hom is, geskenke bring aan die Vreeslike,
76:13 wat die trots van die vorste wegsny, vreeslik is vir die konings van die aarde.
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase