103:1 'n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!
103:2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
103:3 Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees,
103:4 wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede,
103:5 wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van 'n arend.
103:6 Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.
103:7 Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade.
103:8 Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
103:9 Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.
103:10 Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.
103:11 Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.
103:12 So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
103:13 Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.
103:14 Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.
103:15 Die mens- soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy.
103:16 As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.
103:17 Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders,
103:18 vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.
103:19 Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.
103:20 Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!
103:21 Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!
103:22 Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel!
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase