31:1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid.
31:2 By U, o HERE, skuil ek; laat my nooit beskaamd staan nie. Bevry my deur u geregtigheid.
31:3 Neig u oor tot my, red my gou; wees vir my 'n rots om in te vlug, 'n baie vaste huis om my te verlos.
31:4 Want U is my rots en my bergvesting; en om u Naam ontwil sal U my lei en my bestuur.
31:5 U sal my laat uitgaan uit die net wat hulle vir my gespan het, want U is my toevlug.
31:6 In u hand gee ek my gees oor; U het my verlos, HERE, God van trou.
31:7 Ek haat die wat nietige afgode vereer, maar ék vertrou op die HERE.
31:8 Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het
31:9 en my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan.
31:10 Wees my genadig, HERE, want ek is benoud; van verdriet het my oog mat geword, my siel en my liggaam.
31:11 Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit.
31:12 Vanweë al my teëstanders het ek 'n voorwerp van smaad geword, ja, grootliks vir my bure, en 'n voorwerp van skrik vir my bekendes; die wat my op straat sien, vlug weg van my af.
31:13 Ek is vergeet uit die hart, soos 'n dooie; ek het geword soos 'n ding wat lê en vergaan.
31:14 Want ek het die skindertaal van baie gehoor- skrik rondom! - terwyl hulle saam raad hou teen my; hulle is van plan om my lewe te neem.
31:15 Maar ék vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God.
31:16 My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers.
31:17 Laat u aangesig skyn oor u kneg, verlos my deur u goedertierenheid.
31:18 HERE, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep U aan; laat die goddelose beskaamd staan, laat hulle verstom in die doderyk!
31:19 Laat die valse lippe stom word wat in trotsheid en veragting onbeskaamd spreek teen die regverdige.
31:20 o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders!
31:21 U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in 'n hut vir die twis van die tonge.
31:22 Geloofd sy die HERE, want Hy het sy goedertierenheid aan my wonderbaar gemaak, in 'n vaste stad.
31:23 Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë; nogtans het U die stem van my smekinge gehoor toe ek U aangeroep het om hulp.
31:24 Julle moet die HERE liefhê, al sy gunsgenote! Die HERE bewaar die getroues en vergeld hom oorvloedig wat trots handel.
31:25 Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op die HERE wag!
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase