104:1 Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed-
104:2 wat Uself omhul met die lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitspan soos 'n tentdoek;
104:3 wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel,
104:4 wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars.
104:5 Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.
104:6 U het dit met die wêreldvloed soos met 'n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan.
104:7 Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik-
104:8 berge het opgerys, laagtes het weggesak- na die plek wat U vir hulle reggemaak het.
104:9 'n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
104:10 Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes: tussen die berge loop hulle deur.
104:11 Hulle laat al die diere van die veld drink; die wilde-esels les hulle dors.
104:12 By hulle woon die voëls van die hemel; tussen die takke uit laat hulle die stem hoor.
104:13 Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke.
104:14 Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom,
104:15 en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk.
104:16 Die bome van die HERE word versadig, die seders van die Líbanon wat Hy geplant het;
104:17 waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is.
104:18 Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is 'n skuilplek vir die dasse.
104:19 Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.
104:20 U beskik die duisternis, en dit word nag, waarin al die diere van die bos uitkruip.
104:21 Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God.
104:22 As die son opgaan, dan trek hulle hul terug en gaan lê in hul slaapplekke.
104:23 Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.
104:24 Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!
104:25 Daar is die see, groot en alkante toe wyd- daar is 'n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.
104:26 Daar gaan die skepe en die Leviátan wat U geformeer het om daarin te speel.
104:27 Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd.
104:28 U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie.
104:29 U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.
104:30 U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.
104:31 Laat die heerlikheid van die HERE vir ewig wees, laat die HERE bly wees oor sy werke,
104:32 Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook.
104:33 Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.
104:34 Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die HERE!
104:35 Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie! Loof die HERE, o my siel! Halleluja!
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase