53:1 Vir die musiekleier; op die wysie van: Máhalat. 'n Onderwysing van Dawid.
53:2 Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie.
53:3 God het uit die hemel neergesien op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra.
53:4 Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie.
53:5 Het die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep God nie aan nie.
53:6 Dáár het skrik hulle oorweldig sonder dat daar skrik was; want God het die beendere verstrooi van hom wat jou beleër het; jy het hulle beskaamd gemaak, want God het hulle verwerp.
53:7 Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom! As God die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees.
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase