36:1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid, die kneg van die Here.
36:2 In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie.
36:3 Want dit vlei hom in sy oë in verband met die uitvind en haat van sy skuld.
36:4 Die woorde van sy mond is onreg en bedrog; hy laat ná om verstandig te wees, om goed te doen.
36:5 Hy bedink onreg op sy bed; hy gaan staan op 'n weg wat nie goed is nie; wat sleg is, verfoei hy nie.
36:6 o HERE, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke.
36:7 U geregtigheid is soos die berge van God; u oordele is 'n groot watervloed. HERE, U behou mense en diere!
36:8 Hoe kosbaar is u goedertierenheid, o God! Daarom skuil die mensekinders onder die skaduwee van u vleuels.
36:9 Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge.
36:10 Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.
36:11 Laat u goedertierenheid voortduur vir die wat U ken, en u geregtigheid vir die opregtes van hart.
36:12 Laat die voet van die trotsaard nie oor my kom nie, en laat die hand van die goddelose mense my nie verdryf nie.
36:13 Daar het die werkers van ongeregtigheid geval; hulle is neergestoot en kan nie weer opstaan nie.
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase