108:1 'n Lied. 'n Psalm van Dawid.
108:2 My hart is gerus, o God! Ek wil sing en psalmsing, ja, ook my eer.
108:3 Waak op, harp en siter! Ek wil die dageraad wakker maak.
108:4 Ek wil U loof onder die volke, o HERE, en psalmsing tot u eer, onder die nasies;
108:5 want u goedertierenheid is groot bo die hemel uit en u trou tot by die wolke.
108:6 Verhef U bo die hemele, o God, en u heerlikheid bo die hele aarde!
108:7 Dat u bemindes gered kan word- verlos deur u regterhand en verhoor ons!
108:8 God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel en die dal van Sukkot afmeet.
108:9 Gílead is myne, Manasse is myne, en Efraim is die beskutting van my hoof; Juda is my veldheerstaf.
108:10 Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; oor Filistéa jubel Ek.
108:11 Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie lei my tot in Edom?
108:12 Het U, o God, ons nie verwerp nie? En U trek nie uit, o God, saam met ons leërs nie.
108:13 Gee ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is vergeefse moeite.
108:14 In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase