66:1 Vir die musiekleier. 'n Lied. 'n Psalm. Juig tot eer van God, o ganse aarde!
66:2 Besing die eer van sy Naam, maak heerlik sy lofsang!
66:3 Sê tot God: Hoe vreeslik is u werke! Deur die grootheid van u sterkte sal u vyande kruipende na U toe kom.
66:4 Laat die hele aarde U aanbid en psalmsing tot u eer; laat dit u Naam verhef in psalmgesang. Sela.
66:5 Kom en aanskou die dade van God, Hy wat gedug is in werking oor die mensekinders.
66:6 Hy het die see verander in droë land; hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar was ons bly in Hom.
66:7 Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies. Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie. Sela.
66:8 Loof, volke, onse God, en laat hoor die stem wat Hom roem-
66:9 wat aan ons siel die lewe gee en nie toelaat dat ons voet wankel nie.
66:10 Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos 'n mens silwer louter.
66:11 U het ons in die net gebring, 'n swaar las op ons heupe gelê.
66:12 U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed.
66:13 Ek sal met brandoffers in u huis ingaan; ek sal U my geloftes betaal,
66:14 wat my lippe geuit en my mond uitgespreek het toe ek benoud was.
66:15 Brandoffers van vet diere sal ek U bring saam met offerrook van ramme; ek sal beeste saam met bokke berei. Sela.
66:16 Kom luister, en laat my vertel, julle almal wat God vrees, wat Hy aan my siel gedoen het.
66:17 Ek het Hom aangeroep met my mond, en lofgesang was onder my tong.
66:18 As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.
66:19 Waarlik, God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed.
66:20 Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys en sy goedertierenheid aan my nie onttrek het nie!
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase