5:1 My seun, luister na my wysheid, neig jou oor tot my insig,
5:2 dat jy volle oorleg kan behou en jou lippe kennis kan bewaar;
5:3 want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie,
5:4 maar op die end is sy bitter soos wilde-als, soos 'n swaard aan weerskante skerp.
5:5 Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe.
5:6 Dat sy die pad na die lewe nie sou inslaan nie, wankel haar gange sonder dat sy dit weet.
5:7 Luister dan nou na my, julle seuns, en wyk nie af van die woorde van my mond nie.
5:8 Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie,
5:9 sodat jy nie jou bloei aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie;
5:10 sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van 'n uitlander kom nie
5:11 en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is,
5:12 en moet sê: Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad,
5:13 en nie geluister na die stem van my onderwysers en geen gehoor gegee aan die wat my geleer het nie!
5:14 Amper was ek heeltemal in die ongeluk, in die vergadering en die gemeente.
5:15 Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put.
5:16 Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine?
5:17 Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie.
5:18 Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug--
5:19 die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.
5:20 Maar waarom sou jy, my seun, by 'n vreemde bedwelmd raak en die boesem van 'n ontugtige omhels?
5:21 Want elke mens se weë is voor die oë van die HERE, en Hy weeg al sy gange.
5:22 Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou.
5:23 Hy sal sterf deur gebrek aan tug, en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy dwaal.
Created with HTMLCompiler by BibleDatabase