Main Index: Afrikaans

 

Hosea 11

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14]

11:1 Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.

11:2 Hoe meer die profete hulle geroep het, des te meer het hulle van húlle af weggeloop; hulle het aan die Baäls geoffer en vir die gesnede beelde rook laat opgaan.

11:3 En Ek self het Efraim leer loop. Hy het hulle op sy arms geneem, maar hulle het nie erken dat Ek hulle genees het nie.

11:4 Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek; en Ek was vir hulle soos diegene wat die juk van hulle kakebeen af oplig; en Ek het My na hom neergebuig, Ek het hom voedsel gegee.

11:5 Hy sal na Egipteland nie terugkeer nie, maar Assur--dié sal sy koning wees; omdat hulle geweier het om hulle te bekeer.

11:6 En die swaard sal geswaai word in sy stede en sy grendels vernietig en verteer weens hulle planne.

11:7 Want my volk dwing om van My afvallig te word; en as die profete hom roep na bo, rig hy hom glad nie op nie.

11:8 Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Seboïm: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.

11:9 Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie 'n mens nie, die Heilige in jou midde. En Ek sal nie kom in grimmigheid nie.

11:10 Hulle sal agter die HERE aan trek; Hy sal brul soos 'n leeu. Want Hy sal brul, en die kinders sal met siddering van die seekant aankom.

11:11 Hulle sal sidderende aankom soos 'n voëltjie uit Egipte en soos 'n duif uit die land Assur; en Ek sal hulle laat woon in hulle huise, spreek die HERE.

 

Created with HTMLCompiler by BibleDatabase