Main Index: Afrikaans

 

Job 19

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

19:1 Maar Job het geantwoord en gesê:

19:2 Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?

19:3 Nou tien maal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam.

19:4 En het ek ook werklik my misgaan, dan bly my fout by my.

19:5 As julle jul werklik teen my wil groot maak en teen my my smaadheid wil bewys,

19:6 weet dan dat Gód my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het.

19:7 As ek roep: Geweld! dan word ek nie verhoor nie; ek roep om hulp, maar daar is geen reg nie.

19:8 Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei.

19:9 My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem.

19:10 Hy werp my aan alle kante omver, en--daar gaan ek! En Hy het my verwagting uitgeruk soos 'n boom.

19:11 Ook het Hy sy toorn teen my laat ontvlam en my beskou as een van sy vyande.

19:12 As een man kom sy skare aan en baan 'n pad vir hulle teen my, en hulle slaan die laer op rondom my tent.

19:13 My broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword.

19:14 My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet.

19:15 My bywoners en my slavinne beskou my as 'n vreemde; 'n onbekende het ek geword in hulle oë.

19:16 Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek.

19:17 My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot.

19:18 Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my.

19:19 Al my vertroude vriende het 'n afsku van my; en die wat ek liefgehad het, het hulle teen my gekeer.

19:20 My gebeente kleef aan my vel en aan my vlees, en ek het slegs met my tandvlees ontsnap.

19:21 Ontferm julle oor my, ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref!

19:22 Waarom vervolg julle my, soos God, en word nie versadig van my vlees nie?

19:23 Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in 'n boek opgeteken word--

19:24 met 'n ystergriffel en lood--vir altyd in 'n rots ingekap!

19:25 Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.

19:26 En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou;

19:27 Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë--en geen vreemde nie--sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste.

19:28 As julle sê: Hoe sal ons hom vervolg, aangesien die wortel van die saak in hom gevind is! --

19:29 vrees dan vir die swaard, want grimmigheid is een van die oortredinge wat die swaard verdien, sodat julle kan weet dat daar 'n oordeel is.

 

Created with HTMLCompiler by BibleDatabase