Main Index: Afrikaans

 

2 Konings 3

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25]

3:1 En Joram, die seun van Agab, het koning geword oor Israel in Samaría in die agttiende jaar van Jósafat, die koning van Juda, en hy het twaalf jaar geregeer.

3:2 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, maar nie soos sy vader en sy moeder nie, want hy het die klippilaar van Baäl verwyder wat sy vader gemaak het.

3:3 Maar hy het die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het, aangekleef sonder om daarvan af te wyk.

3:4 En Mesa, die koning van Moab, was 'n skaapboer, en hy het aan die koning van Israel gelewer honderd duisend lammers en honderd duisend ramme se wol.

3:5 Maar ná die dood van Agab het die koning van Moab van die koning van Israel afvallig geword.

3:6 En in dieselfde tyd het koning Joram uit Samaría uitgetrek en die hele Israel gemonster.

3:7 Ook het hy Jósafat, die koning van Juda, laat weet: Die koning van Moab het van my afvallig geword; sal u saam met my trek om teen die Moabiete te veg? En hy antwoord: Ek sal optrek; ek sal wees soos u, my volk soos u volk, my perde soos u perde.

3:8 En hy vra: Met watter pad sal ons optrek? Toe antwoord hy: Met die pad deur die woestyn van Edom.

3:9 So het die koning van Israel dan getrek en die koning van Juda en die koning van Edom; maar nadat hulle 'n pad van sewe dae omgetrek het, was daar geen water vir die leër en die vee wat in hulle voetspore gevolg het nie.

3:10 Toe sê die koning van Israel: Ag, die HERE het hierdie drie konings geroep om hulle in die hand van die Moabiete te gee!

3:11 En Jósafat vra: Is hier nie 'n profeet van die HERE, dat ons deur hom die HERE kan raadpleeg nie? Toe antwoord een van die koning van Israel se dienaars en sê: Hier is Elísa, die seun van Safat, wat water op die hande van Elía gegiet het.

3:12 Daarop sê Jósafat: By hom is die woord van die HERE. So het die koning van Israel en Jósafat en die koning van Edom dan na hom afgegaan.

3:13 Maar Elísa het aan die koning van Israel gesê: Wat het ek met u te doen? Gaan na die profete van u vader en die profete van u moeder! Maar die koning van Israel antwoord hom: Ag nee, want die HERE het hierdie drie konings geroep om hulle in die hand van die Moabiete te gee.

3:14 En Elísa sê: So waar as die HERE van die leërskare leef voor wie se aangesig ek staan, as ek nie agting gehad het vir die persoon van Jósafat, die koning van Juda, nie, ek sou na u nie kyk en u nie aansien nie.

3:15 Maar bring nou vir my 'n siterspeler. En toe die siterspeler op die snare speel, het die hand van die HERE op hom gekom,

3:16 en hy het gesê: So spreek die HERE: Maak hierdie dal vol gate.

3:17 Want so spreek die HERE: Julle sal geen wind sien nie, en julle sal geen reën sien nie, en tog sal hierdie dal vol water word, sodat julle self en julle vee en julle ander diere kan drink.

3:18 Ja, dit is nog te gering in die oë van die HERE: Hy sal ook die Moabiete in julle hand gee.

3:19 En julle sal elke versterkte stad en elke uitgesoekte stad oorweldig en elke goeie boom omkap en al die waterfonteine toestop, en elke goeie stuk grond sal julle met klippe bederwe.

3:20 En die volgende môre, omtrent die tyd dat hulle die spysoffer bring, kom daar meteens water van die kant van Edom af, sodat die land vol water geword het.

3:21 En toe al die Moabiete hoor dat die konings optrek om teen hulle te veg, is hulle opgeroep, almal wat die gord vasgespe en wat ouer was, en hulle het by die grens gaan staan.

3:22 Terwyl hulle die môre vroeg hul gereedmaak en die son oor die water opgaan, sien die Moabiete op 'n afstand die water rooi soos bloed.

3:23 En hulle sê: Dit is bloed; die konings het sekerlik mekaar aangeval en die een die ander verslaan; en nou op die buit af, julle Moabiete!

3:24 Maar toe hulle by die laer van Israel kom, het die Israeliete hulle gereedgemaak en die Moabiete verslaan, sodat hulle voor hul uit gevlug het; en hulle het dieper ingetrek en die Moabiete verslaan.

3:25 Daarna het hulle die stede verwoes en op elke goeie stuk grond elkeen sy klip gegooi, sodat dit daarvan vol was, en elke waterfontein toegestop en elke goeie boom omgekap, totdat hulle net in Kir-Haréset die klipmure daarvan laat oorbly het. Maar toe die slingeraars dit omsingel en beskiet,

3:26 en die koning van Moab sien dat die geveg vir hom te swaar word, het hy sewe honderd man wat die swaard uittrek, met hom saamgeneem om na die koning van Edom deur te breek; maar hulle kon nie.

3:27 Daarop neem hy sy eersgebore seun, wat in sy plek koning sou word, en offer hom as brandoffer op die muur. Toe het 'n groot toorn oor Israel gekom, sodat hulle van hom weggetrek en na hulle land teruggegaan het.

 

Created with HTMLCompiler by BibleDatabase