Main Index: Afrikaans

 

Exodus 37

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40]

37:1 En Besáleël het die ark van akasiahout gemaak; twee en 'n half el was sy lengte, en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte.

37:2 En hy het dit oorgetrek met suiwer goud, van binne en van buite; en hy het daaraan 'n goue krans gemaak rondom.

37:3 En hy het daarvoor vier goue ringe gegiet, aan sy vier voete, só dat twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant was.

37:4 En hy het draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek;

37:5 en hy het die draaghoute in die ringe gesteek aan weerskante van die ark om die ark te dra.

37:6 Hy het ook 'n versoendeksel van suiwer goud gemaak. Twee en 'n half el was sy lengte, en anderhalf el sy breedte.

37:7 Ook het hy twee gérubs van goud gemaak. Van dryfwerk het hy hulle gemaak, aan die twee ente van die versoendeksel.

37:8 Een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, het hy die gérubs gemaak, aan die twee ente.

37:9 En die gérubs het die vlerke boontoe uitgesprei gehou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte was na mekaar toe. Die gesigte van die gérubs was op die versoendeksel gerig.

37:10 Hy het ook die tafel van akasiahout gemaak. Twee el was sy lengte, en 'n el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte.

37:11 En hy het dit met suiwer goud oorgetrek en daarvoor 'n goue krans gemaak rondom.

37:12 Hy het ook daarvoor 'n lys van 'n handbreed gemaak rondom; en hy het 'n goue krans vir die lys gemaak rondom.

37:13 Hy het ook vier goue ringe daarvoor gegiet; en hy het die ringe vasgesit aan die vier hoeke van die vier pote.

37:14 Naby die lys was die ringe as plekke vir die draaghoute om die tafel te dra.

37:15 Hy het ook die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek om die tafel te dra.

37:16 En hy het die gereedskap gemaak wat op die tafel moes wees: sy skottels en sy rookpanne en sy bekers en sy kanne waarmee gegiet moes word, van suiwer goud.

37:17 Hy het ook die kandelaar van suiwer goud gemaak. Van dryfwerk het hy die kandelaar gemaak, sy voetstuk en sy stam; sy kelkies, sy knoppe en sy blomme was, daarmee saam, uit een stuk.

37:18 En ses arms het uit die sykante daarvan uitgegaan: drie arms van die kandelaar uit die een kant en drie arms van die kandelaar uit die ander kant.

37:19 Drie kelkies soos amandelblomme aan die een arm, 'n knop en 'n blom, en drie kelkies soos amandelblomme aan die ander arm, 'n knop en 'n blom--so was dit aan die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.

37:20 Maar aan die kandelaar self was vier kelkies soos amandelblomme, met knoppe en blomme:

37:21 daar was 'n knop onder die eerste paar arms wat daaruit uitgaan; en 'n knop onder die tweede paar arms wat daaruit uitgaan; en 'n knop onder die derde paar arms wat daaruit uitgaan--vir die ses arms wat daaruit uitgaan.

37:22 Hulle knoppe en hulle arms was, daarmee saam, uit een stuk alles saam een stuk dryfwerk van suiwer goud.

37:23 En hy het sewe lampe daarvoor gemaak en sy snuiters en sy bakkies van suiwer goud.

37:24 Van 'n talent suiwer goud het hy dit gemaak met al sy gereedskap.

37:25 En hy het die reukaltaar van akasiahout gemaak; 'n el was sy lengte en 'n el sy breedte, vierkantig, en twee el sy hoogte. Sy horings was, daarmee saam, uit een stuk.

37:26 En hy het dit met suiwer goud oorgetrek: die plaat, die sykante en die horings. En hy het daarvoor 'n goue krans gemaak rondom.

37:27 Hy het ook twee goue ringe daarvoor gemaak, onderkant die krans aan weerskante, aan die twee sykante, as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra.

37:28 En hy het die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek.

37:29 Hy het ook die heilige salfolie gemaak en die suiwer reukwerk van speserye, soos 'n salfmenger dit maak.

 

Created with HTMLCompiler by BibleDatabase